deur Sentrum vir eietydse spiritualiteit
Wie is ons?
Dr. Abel Pienaar is verkies as die eerste direkteur vir die Sentrum van Eietydse Spiritualiteit (SES). Die vyf stigterslede is Prof. Celia Kourie, Prof. Kobus Krüger, Prof. Hansie Wolmarans, Dr. Piet Muller en Dr. Abel Pienaar.
Dr. Abel Pienaar
Abel Pienaar het twee grade in Teologie (Universiteit van Pretoria) en ‘n doktorsgraad in Filosofie van Godsdiens. Hy het vir elf jaar gewerk as voltydse leraar in die Ned. Geref. Kerk in ‘n makro gemeente in Pretoria. Tydens hierdie tyd word hy verkies tot die Sinode se direkteur: Sentrum vir Spiritualiteit, ‘n posisie wat hy behou tot hy in 2006 bedank uit die NG Kerk.
Abel het gestudeer onder Thich Nhat Hanh (Zen Boeddhis, Frankryk) en ook blootstelling gehad en geleer by o.a. die huidige Dalai Lama, Fr. Thomas Keating, Biskop John Selby Spong, Kobus Krüger en Ken Wilber.
Abel is hoofleraar van Renaissance, ‘n spirituele gemeenskap in Pretoria. Hierdie geestelike gemeenskap het gegroei en daar is middel 2008 ook in die Kaap begin met ‘n Renaissance Gemeenskap.
Hy het ook al in verskeie tydskrifte verskyn en in radio en TV programme opgetree. Abel het al heelwat artikels geskrywe en het al aan heelwat boekpublikasies as mede-skrywer gewerk. Sy eerste boek is in 2010 gepubliseer met die titel: Saam op soek na God: Soeke na ‘n eietydse spiritualiteit. Abel skryf vanaf 2012 ‘n weeklikse rubriek vir Rapport koerant. Hy is al die afgelope 15 jaar ‘n praktiserende Tai Chi meester en meditasie leermeester.
Abel is getroud met Zelda en het vier kinders.
Prof. Kobus Krüger
Kobus Krüger studeer in 1963 aan die Universiteit van Pretoria as predikant in die Ned. Geref. Kerk af. Van 1964 tot 1967 is hy en Christina in Amsterdam, waar hy aan die Vrije Universiteit in Sistematiese Teologie studeer. Van 1968 tot 1971 is hy predikant in die Ned. Geref. gemeente Suidoos-Pretoria. In 1972 word hy dosent, en mettertyd mede-professor in Sistematiese Teologie, aan UNISA. In 1980 skuif hy van Sistematiese Teologie na die vak Godsdienswetenskap. Hy word professor in Godsdienswetenskap, en is vanaf 1984 tot sy aftrede in 2005 departementshoof van die Departement Godsdienswetenskap.
Sy lewe draai om mistiek en die akademiese bestudering van die mistiek. Sy eerste akademiese poging (‘n BD-verhandeling) het oor die Middeleeuse mistikus Thomas á Kempis gehandel. Sy DTh-proefskrif het oor die teologie van die groot Gereformeerde teoloog Karl Barth gegaan – maar sy bestudering van Barth het hom ook onder die indruk daarvan gebring dat ander weë dringend ondersoek moet word. In die vroeë 1970s lei sy mistieke en akademiese belangstelling hom in die Godsdienswetenskap in, en begin hy met ‘n omvattende bestudering van die Boeddhistiese geskiedenis en filosofie vanuit Pali en ‘n vergelykende bestudering van die mistiek.
Hy het hom altyd welwillend-krities teenoor alle religieuse institusionalisering opgestel, en gesoek na ‘n teorie wat alle religie – met mistiek as die lokkende rigting van die mens se behoefte aan radikale en omvattende oriëntering in die wêreld – in een omvattende raamwerk kan akkommodeer. Dit sluit allerlei in wat nie konvensioneel as ‘godsdiens’ of teïsme sou kwalifiseer nie. Die groot water waarheen al daardie spore lei en waarvandaan hulle almal kom, is vir hom die Ongrond, met Absoluutheid as stil hart.
Dr. Piet Muller
Piet Muller studeer aan die Universiteit van Oranje Vrystaat, en verwerf grade in BA (Cum Laude), B Honneurs BA. Aan die Universiteit van Kaapstad doen hy sy MA en ‘n PhD in filosofie aan die Universiteit van Pretoria. Sy gepubliseerde akademiese artikels sluit in Articles in the fields of theory of translation, communication science, philosophy, creativity studies and futurology.
Piet is ook ‘n geregistreerde hipnoterapeut (CtH).
Piet is ‘n futuroloog en die mede-stigter van twee uitgewershuise en die stigter, redakteur van die tydskrif Insig (1990). Hy was ook die visie-redakteur van Rapport en Beeld. As politieke joernalis ontvang hy die SFW Toekenning vir joernalisme, vir sy bydrae tot die onderhandelings tussen die ANC en die destydse regering.
Hy is die skrywer van 16 boeke, onder ander Sukses na vyftig, Die Nuwe Hervorming, Gedagtes wat heelmaak. Hy is tans besig om ‘n kommentaar te skrywe op die Evangelie van Thomas.
Hy het ook al vele artikels geskrywe en aangebied reg oor die wêreld rondom die temas van spiritualiteit. Onlangse aanbieding was getitel: Spirituality, Depth-Psychology and Nag Hammadi.
Prof. Celia Kourie
Celia Kourie is a professor of Christian Spirituality at the University of South Africa and St Augustine College. She received her DTh in the field of mysticism at Unisa where she also instituted new degrees in Christian Spirituality at Doctoral, Masters, and Honours level. Her research areas include mysticism, spirituality, art and spirituality; psychology and spirituality; Pauline and Johannine mysticism; inter-religious dialogue. Celia Kourie writes extensively in the fields of mysticism and spirituality. She is married and has two sons.
Prof. Hansie Wolmarans
Hansie Wolmarans is professor en hoof van die Dept. Griekse & Latynse Studies aan die Universiteit van Johannesburg. Nadat hy Teologie aan die UP studeer het, het hy ‘n MA en Ph.D. in Grieks verwerf. Hoewel hy onmiddellik ná die voltooiing van sy teologiese studies begin klas gee het, was hy oor die afgelope 30 jaar deeltyds verbonde aan verskillende gemeentes – eers van die Hervormde kerk, en vanaf 2006 van die Presbiteriaanse kerk, Parkview.
Hy spesialiseer in die Grieks-Romeinse agtergrond van die Nuwe Testament, en het meer as 95 wetenskaplike artikels publiseer en was outeur of mede-outeur van agt boeke. Hy gee klas in Grieks, Latyn, asook die Grieks-Romeinse mitologie.
As stigterslid van die Nuwe Hervorming Netwerk, stel hy baie belang in post-moderne teologie en neem ook gereeld deel aan teologiese besprekingsprogramme oor SAFM, Radio Kansel asook TV.
Hy is al die afgelope 31 jaar getroud met Hester en die egpaar het vier kinders, waarvan die jongste seun (‘n nalatige lammetjie) in 2010 in graad 10 is, en die tweedejongste (‘n dogter en laatlammetjie) in 2010 eerstejaar op universiteit is. Sy oudste seun en dogter het reeds afstudeer en is selfversorgend.
Ons Waardes
Ons maak nie aanspraak op ewige waarhede nie en die huidige wêreldbeeld neem ons ernstig op.
Wanneer ons oor die goddelike en spiritualiteit praat, aanvaar ons dat ons na die onbegryplike misterie van die lewe verwys wat ons onder andere in geestelike leermeesters soos byvoorbeeld Boeddha en Jesus van Nasaret leer ken.
Ons oorgelewerde “waarhede” in onder andere die Bybel, ons Christelike en ander spirituele tradisies, filosofieë, sielkunde en andere wetenskappe is vir ons belangrik en ons neem die beste daaruit.
Ons beskou diversiteit en godsdienstige pluralisme as positiewe verskynsels.
Ons bevorder innoverende en kreatiewe denke.
Ons streef daarna om met morele integriteit en medemenslikheid teenoor alle lewe op te tree, ongeag spesie, ras, geslag, seksuele oriëntasie, geloofs-oriëntasie, fisieke vermoë, en groepsverband.
Ons aanvaar verantwoordelikheid vir onsself, en teenoor ons medemens en ons omgewing.
Ons Visie
Ons soek na nuwe vorme van spiritualiteit in ‘n eietydse geloofsbelewing. Dit gaan vir ons daarom om ‘n oop, eerlike en respekvolle verhouding (dialoog) op te bou tussen geloof, wetenskap en ons wêreld waarin ons leef.
‘n Ruimte te skep waar mense ontmoet en met waarheid omgaan op ‘n eerlike en oop wyse. Waar ons saam na die goddelike kan soek, logos (rede, wetenskap) en mythos (simbole, mites, kuns, musiek), hier en nou! En waar die “tools” wetenskaplike waarheid onderskrywe, sowel as verstaan van mythos.
Die lede van ons sentrum is mense wat krities betrokke is by die problematiek van ons samelewing en wat na ‘n relevante oplossing vir ons konteks en tyd soek.
Ons werk na ‘n nuwe tyd waar inligting vrylik kan vloei sonder vrees vir marginalisering, verkettering of vervolging.
Ons Missie
Die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit wil ‘n ruimte vir oop religieuse gesprek verskaf. In hierdie spirituele ruimte kan nuwe gedeelde waardes ontwikkel word, en ‘n nuwe verstaan en lewensin kan gevind word. Hierdie ruimte verskaf ‘n spirituele tuiste vir mense wat hulle met vrye en oop denke identifiseer.
Ons Doelstellings
In ons eerlike soeke na ‘n eietydse spiritualiteit, fokus die sentrum se aktiwiteite op drie terreine naamlik: skep van ‘n ruimte vir dialoog, inlig, toerus en integreer van nuutste idees en ontwikkelings op spiritualiteits terrein, aktiewe momentum bring aan debat in openbare bewussyn.
Ons wil deur oop gesprek begrip vir religieuse diversiteit bevorder; gesprek met verskillende wetenskaplike dissiplines en kunsuitinge help inisieer; aansluiting soek en vind met organisasies in Suid Afrika en wêreldwyd wat dieselfde of soortgelyke doelstellings as ons het; ons wil opleiding verskaf; ‘n webwerf bedryf; ‘n databasis van sprekers, publikasies, in stand hou en dit op die webwerf publiseer. Om sodoende saam te werk aan ‘n meer eietydse verstaan op die sfeer van spiritualiteit.
http://www.spiritualiteit.co.za/spiritualiteit-wie.php